ONS CAMINO|KOMMENTAAR|ANDER PUBLIKASIES|RESENSIES|BESTELVORM
 
ROBBIE SE BROER SE ROER  | Prys: R 195.00

Vrylik ook in boekwinkels beskikbaar.

Indien onbeskikbaar, stuur asb e-pos aan pienkes@duvesco.com

Pienkes du Plessis is terug met ’n nuwe bundel kortverhale. In Robbie se broer se roer en ander jagstories vertel Pienkes stories oor alles wat met jagekspedisies gepaardgaan – en oor dit wat verkeerd loop! In een verhaal moet drie ooms afreken met ’n slang in hul bakkie; in ’n ander verhaal verloor ’n plaasjapie ’n weddenskap en sluk ’n streepmuis heel af, en in die slotverhaal, “Wie braai, ek of jy?” word ons voorgestel aan Jan Somme, ’n man wat “uit sy hart braai”, “met ’n groot lied in sy hart.” Pienkes skryf met sy kenmerkende, fyn humorsin oor vuurmaak, braai, kamp opslaan, sleepwaens pak en onderonsies met wilde diere, maar hy vertel ook staaltjies van toentertyd. Nostalgiese stories, perfek vir lekker lag om die kampvuur.


ANDERKANT DUSKANT  | Prys: R 150.00
Dis as die maan groot staan dat die oorlog ook opstaan, tussen hulle en hulle, en ons en ons, en hulle en ons. Hulle anderkant, en ons duskant, en ons anderkant en hulle duskant. Want die verdriet van die oorlog is endloos, vir altyd en altyd, hier in Jurieskloof, tussen die waters en die kanale. Groet die vrede en stook die vuur, die oorlog moet aanhou brand …

Só begin die meesleurende verhaal van Coenie en Lisa en hulle jong liefde, van Ou Meester Kgama en die opstandige Dikgo. Saam met hulle Ma Trien en Boetwillem, Oompie Janneman en Oom Pieta en al die ander. 'n Bestaanstryd van 'n eenvoudige Afrikaanse gemeenskap van 60-70 jaar gelede in die vyandige omgewing van die Noord-Kaap, woes en onsimpatiek. Deel van hierdie omgewing is swartmense, onkundig en onsuksesvol om hierdie omgewing baas te raak in hulle eie wanhopige stryd teen bekrompe kleinboere wat met Bybel en sambok oor hulle heers. 'n Onheelbare konflik met onbereikbare versoening as eindproduk.

’n Aangrypende, hoogs-omstrede en politiek-inkorrekte roman wat ’n storie vertel van Suid-Afrika se hartseer samelewing.

DIE MAN  | Prys: R 100.00
Die MAN teken in vyf sketse 'n vreemde, afsydige wêreld van mense en plekke en omstandighede wat vaagweg aan laasnag se drome herinner. Maar drome vervaag reeds vroeg-oggend en die vyf verhale bly nog lank in 'n mens se kop rondmaal.

Een van die sketse Die man wat so eerlik was, was in 1964 'n gewilde kortverhaal in die tydskrif Sarie Marais terwyl twee ander aanvanklik as radio- hoorspele uitgesaai is.

Die skrywer skets doelbewus die karakters en gebeure op 'n afstand, sonder detail van gevoel en meelewing. Vandaar die strak, gestroopte skryfstyl, uniek aan Pienkes, dwarsdeur hierdie uitsonderlike reeks man-sketse.

Die MAN bewys dat Pienkes du Plessis die kuns ken om boeklesers tot in die hart van sy stories te trek en te bly boei.

EK KEN JOU  | Prys: R 150.00

Hierdie verhaal volg 'n hoogs ongewone patroon en ons kry te doen met twee “ekke” wat vertel: die slagoffer en die moordenaar. Wilhelm, verbete om te bly leef, en sy moordenaar net so verbete om te moor. Die intrige word daarop gebou en met Wilhelm se kleurryke romanses verweef, as die groot liefde uit sy verlede onverwags opduik.

Pienkes du Plessis ken die sakewêreld van groot geld, van markte, aandele, die leefwêreld van rykes, jagtogte en skivakansies, binnegevegte tussen direkteure, oornames en bankintriges. Hy beskik oor ‘n gespesialiseerde kennis van gewere, gooimesse, motors, staptogte, die woestyn, musiekkonserte en nog meer. En uit hierdie fassinerende agtergrond kerf hy ‘n naelbyt geldavontuur.


Ampie Coetzee, Emeritus-professor, Afrikaans-Nederlands, WITS

“Hierdie boek is ‘n treffer wat jy nie sal kan neersit nie! Dis spannend van begin tot einde”



DIE PERDEKOMBERS  | Tans uit druk  
Die manne gaan op hulle eerste jag in die duine, daar waar die bokke se “vêêêr” is en so “kléiiin” lyk. Daar beleef hulle veel meer as net bokke. Daar is die duinekonsert, Willempie se medikamente, die Koningbok en die kwesbok. Op 'n voorsitjag in die Karoo skiet Kleinhannes sy beste-verste-skoot. En in Oostenryk leer Pienkes van jag met 'n perdekombers en 'n boervrou aan jou sy.

Hier is heerlike, onopgesmukte stories met aardse humor en 'n onblusbare lewensgenot. Die oorspronklike verhale uit Duinestories word nou aangevul deur 'n splinternuwe versameling stories uit meesterverteller Pienkes du Plessis se pen. Dis 'n boek oor jagters en manne, maar dit word aanbeveel vir enigeen wat hou van lekker lees en lag.